Thursday, December 31, 2009

Die Herskepping van Hoop

Haar naam is Hoop. Haar vel is spierwit en silwerskoon soos iemand wat ‘n steriele lewe lei. Sy het heuningblonde hare en groen oë, sulke deurskynendes soos wanneer iemand amper nie meer tuis is nie, maar nog graag sou wou probeer, al weet sy dat dit nutteloos kan wees.
Sy is vriendelik as mens in haar kamer kom, mits jy alleen is. Sy kom groet, maar haar oë dwaal gereeld na die leë bord. Haar lewe draai om kos, want daar is niks anders vir haar om te doen nie. Dit, en die kort kuiertjies van haar mense. Maar sy was lanklaas hier, al het hulle saam hierheen getrek. Sy het haar lewe in orde begin kry met ‘n nuwe man. Eers het hulle elke tweede nag hier deurgebring, maar elke keer wat hulle hier was, het sy meer van haar goed saamgevat.
Hoop is goed grootgemaak. Sy het mooi geleer om met min tevrede te wees, want dankbaarheid is tog so ‘n deug. Sy woon in ‘n pragtige ruim kamer met ‘n groot bed, twee stoele, ‘n boekrak vol goeie boeke en ‘n warm mat op die vloer. Sy het nooit ‘n rebelse dag beleef nie, want sy ken niks anders nie. Tog is sy al opgemerk waar sy roerloos by die venster sit en uitstaar . . . . .
Sy was drie weke laas hier. Toe sy gebel het, was dit om te hoor of haar gunsteling CD dalk hier is, want sy kry dit nie. Dalk het sy net vergeet om te vra hoe dit met Hoop gaan. . . . .
“Foeitog, sy leef net in daardie kamer, kom nooit eers bietjie buite nie” sê my dogter.
So het ons toe vir Hoop buitentoe geneem. Maar Hoop het aan ons geklou, angsbevange. Eers toe sy terug is in haar kamer, het sy ontspan.
Wat nou gemaak? het dit deur my kop gedraai terwyl die slaap weggebly het. Dit is Septembermaand, en na die winter kom die lente, en die lus om nuwe dinge te skep en te doen is groot. Dalk kan ons vir Hoop help om ‘n florerende lewe i.p.v. ‘n blote oorlewende een, te skep.
“Maak net die deur vir haar oop” sê my dogter. “Hoe moeilik kan dit tog vir haar wees?”
Ek het die buitedeur vir haar oopgemaak, en buitentoe gegaan om haar waar te neem. Versigtig het Hoop tot by die deur beweeg. Sy het haarself teen die deurkosyn gevryf, stert omhoog. Toe aan die anderkant, en toe het sy poot vir poot buitentoe gekom, maar nog steeds naby die deur gebly. Sy het vir ‘n hele ruk gesit en kyk, naby die deur. Toe het sy ‘n paar tree vorentoe gegee en gaan rol naby die blare wat oorgebly het van die winter. Haar hele rugstring het kontak gemaak met die aarde. Eers later het sy bietjie verder beweeg.
Van toe af het ons die buitedeur vir haar oopgelos, maar sy het meestal binne gebly. Wat opval is dat sy glad nie nuuskierig is nie. Haar lewenslus is geblus. Haar groot belangstelling is kos, uit ‘n pakkie en in haar bakkie. Sou sy nog iets onthou van bekruip en jag?
Volgende het ons die binnedeur vir haar begin ooplos. Sy het begin om versigtig boontoe te kom, met die trappe op. Sodra sy iets gewaar, het sy teruggevlug na haar kamer toe.
Toe gebeur waarvoor ek bang was: ‘n ontmoeting met Apollo. Hy is die kat van die huis, en ek was nie seker hoe die toevoeging tot die huishouding hom sou geval nie. Hoop is immers ‘n volwasse ander kat.
Hulle het mekaar naby die trappe ontmoet. Albei het gevries, mekaar aangestaar om te sien wie gaan eerste padgee. Albei het gaan lê, sterte swiepend. Hulle het mekaar aangegluur, sonder om ‘n sentimeter nader aan mekaar te beweeg. Dan het die een se stert beweeg, dan die ander een. Dit was vir my baie duidelik dat hulle ‘n argument het, en dat hulle besig is om die huishoudelike reels uit te sorteer. Na wat vir my soos ‘n ewigheid gevoel het, het Hoop skielik opgespring en teruggevlug na die veiligheid van haar kamer. Apollo het statig weggestap.
Die volgende dag het sy haar kat kom haal, uit die bloute. Ek was teleurgesteld, want ek het vas geglo dat Hoop haar instinkte sou herwin, sy moes net tyd gegee word om haar ware natuur te ontsluit na die lang gevangenisskap. Ek het ook aan grootheidswaan gelei en geglo dat ek beter is vir Hoop.
“n Paar dae later praat ek met ‘n vriendin wat bewoëe vir my sê dat die regte ding gebeur het. Sy het haar geliefde kat verloor toe sy ‘n verlore kat ingeneem het. Sy dog sy doen die opregte goeie ding. Haar kat was kwaad vir haar, en het haar enkels gebyt. Sy kon nie verstaan hoekom nie. Hy het weggebly vir ‘n paar dae, teruggekom, die ander kat aangegluur, gegrom en haar enkels gebyt om sy misnoeë uit te spreek. Sy het nie verstaan nie. Toe het hy verdwyn. Sy het gesoek en gesoek, vergeefs. Op ‘n dag gaan kyk sy op ‘n leë erf, en daar kry sy hom, dood, gevang in ‘n strik. Toe sy die pad wil oorsteek terug na haar huis toe, toe hardloop die verlore kat oor die straat reguit na haar toe, reg onder die wiele van ‘n kar.
Dit is die logiese einde vir hierdie storie.
Ses weke later, lui die voordeurklokkie. Die jong buurman staan voor die deur.
“Is dit Tannie-hulle se klein katjies in die straat?”
Gou-gou gaan wys hy vir my waar vier klein katjies op die sypaadjie sit. Hulle sit kiertsregop styf teen mekaar. Toe ons baie naby is, laat vat die een grysetjie, reguit in die kake van een van die groot honde verder af in die straat. Ons het vergeefs gesoek na die eienaar, al het ek vermoed dat hulle weggegooi is.
Die veearts meen dat hulle die genotvolle glipsies is van iemand se opregte kat. Opvallend dat iemand hulle voor my deur gelos het. Nog meer opvallend dat die enetjie op ‘n kathaar net so lyk soos Hoop.
Sou dit blote toeval kon wees dat die klein katjies ses weke oud is?
Ons het die lyk-net-soos-Hoop enetjie gehou eers nadat Apollo sy duidelike goedkeuring gegee het. Aan die punt van haar ligte gemmer stertjie is daar ‘n kinkel.